Wat help leiers om daai oomblik aan te gryp?
Jy het dit seker al gesien, né? Daai “wow” oomblik wanneer jy ware leierskap beleef. Hoendervleis-stories al die pad! Leiers wat “die regte ding op die regte tyd” doen of sê, en ons beïndruk deur hulle vermoë om so bekwaam in daai spasie in te tree. Daai spasie: die een waar leiers hul staal wys!
Wat help leiers om daai oomblik aan te gryp? Alhoewel hulle dit so maklik laat lyk, is die boustene van uitmuntende leierskap in die regte oomblik, nie so eenvoudig nie. Dit is nie net ‘n inspuiting van briljantheid of fontein van talent nie. Dit is veel eerder ‘n sterk fondasie van waardegedrewe beginsels, wysheid deur ervaring en slimkopdenke. Ons sien dieselfde gebeur in groot sportgeleenthede: individuele– of spanbriljantheid op die regte oomblik gebeur soveel makliker wanneer die span getrou is aan hul beginsels, hard geoefen het aan hul reaksies in moeilike situasies en intelligente keuses maak op die regte tyd.
As jy te veel druk op jouself sit om “die regte ding op die regte tyd” te maak gebeur, gaan angstigheid jou prestasie negatief beïnvloed. Fokus eerder op dit wat jy weet jou leierskap laat skyn op die regte oomblik – beproefde leierskapsbeginsels, al die oefening wat jou voorberei het vir daardie groot geleentheid, en die breinkrag waarmee jy geseën is. Vertrou hierdie kombinasie om op die regte tyd af te skop sodat jy met die bal kan hardloop. Vertrou jou identiteit, vertrou jou voorbereiding en vertrou jou gesonde oordeel. Dit sal jou baie baat wanneer die fluitjie blaas!